Thursday 2 January 2014

NUWEJAARSGEBED.

Ek vra om verskonjng dat gister se "Woord van die dag" foutief was, in beide Engels en Afrikaans. 
WORD OF THE DAY:
[Isaiah 46:4]
Even to your old age and grey hairs I Am He, I Am He Who will sustain you. I have made you and I will carry you; I will sustain you and I will rescue you. 

WOORD VAN DIE DAG:
[Jesaja 46:4]
En tot die ouderdom toe is Ek dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ek het dit gedoen en Ek sal julle opneem, en Ék sal dra en red. 

2 Januarie 2014.
NUWEJAARSGEBED:
Groot en Almagtige God en Hemelvader. Dankie vir hierdie nuwe dag en jaar in ons lewens. Dankie vir 'n nuwe begin. 
Help ons Vader God om ons oë op U gevestig te hou, en U te glo en vertrou soos klein kindertjies, met onwrikbare en standvastige geloof. 
Wanneer ons bid Vader, help ons om nie te twyfel nie, want U Woord sê as ons bid, moet ons in geloof bid sonder om te twyfel; want hy wat twyfel is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Ook dat so 'n mens nie moet dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. 
Help ons om onwankelbare geloof te hê Vader, sodat ons met ons "berge" kan praat en hulle kan beveel om hulleself op te hef en in die see te werp. Help ons om nie in ons harte te twyfel nie maar sal glo dat ons alles wat ons in die gebed vra, sal ontvang. 
U Woord sê dat die vurige gebed van die regverdige groot krag het; en ook dat die gebed van die opregtes welgevallig is voor U. 
Mag ons gebede welgevallig wees voor U  O God, ons vra dit in die Naam van Jesus Christus ons Redder en Verlosser. 
Dankie vir U kosbare Heilige Gees wat U aan ons geskenk het. Hy is ons Helper, ons Vriend, ons Trooster, ons
Leidsman en ons Raadgewer. 
Help ons asseblief Almagtige God om Sy stem te kan hoor. 
Sonder U O Wonderbare heilige Drie-Enige God, is ons sonder hoop. Ons is verwyder van U teenwoordigheid as gevolg van die sondeval van Adam en Eva, toe sonde sodoende die wêreld binnegekom het.
Dankie Almagtige God dat U die wêreld so lief gehad het, dat U, U Enig-Gebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 
Asseblief Almagtige Vader God, wees ons genadig en skenk ons opnuut 'n nuwe lewe, vreugde en vrede wat alle verstand te bowe gaan. 
Ons weet nie wanneer Jesus op die wolke sal kom om ons te kom haal nie wonderbare Vader, maar help ons asseblief om gereed te wees. Laat die bloed van Jesus asseblief al ons sondes en ongeregtighede afwas. Vergewe ons deur U reddende genade, en skryf ons name in die Lam se Boek van die Lewe.
Wees genadig en vergewensgesind Wonderbare God, want daar staan geskrywe: Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. Help ons asseblief! Ons vra dit Vader in die Naam van Jesus Christus ons Here, Saligmaker en Verlosser. 
Amen en amen. 
Skrifte waarna verwys is in die gebed:
Jakobus 1:6-7; Markus 11:23-25; Spreuke 15:8b; Jakobus 5:16b; Johannes 3:16; Filippense 4:7; Romeine 3:23. 

Cell phone photo.    /    Selfoon foto. 

No comments:

Post a Comment